Elke Skewe Pot

Elke Skewe Pot 'n splinternuwe Kyknet-komedie

 Want elkeen verdien ’n bietjie liefde … selfs al is jy ’n weirdo”

Elke Skewe Pot skop Maandag, 10 Julie af

om 20:00 op Kyknet kanaal 144! 

Met Franci Swanepoel, Carine Rous, Marisa Drummond, Carien Botha, Hannes Brümmer en Annette Engelbrecht

 

Vier vroue van uiteenlopende leefwêrelde werk vir ’n aanlyn opsitkersdiens, bekend as “Elke Skewe Pot”, waar ander mense gereeld pasmaats vind. Tóg, al het hul toegang tot die tegnologiese wonder, bly die kinkel in die kabel dat ware liefde hul steeds ontwyk.

Sandra Koekemoer (Franci Swanepoel) is die 45-jarige eienaar van ’n afspraakwebtuiste genaamd “ELKE SKEWE POT”. Van kleins af het sy die gawe om die perfekte pasmaats bymekaar te bring, en het so reeds vir baie paartjies die sprokie van “vir ewig en altyd” werklikheid gemaak.

Die wêreld het intussen verander en met behulp van tegnologiese vooruitgang het Sandra haar talent omgeskakel in ’n winsgewende afspraakwebtuiste. Haar span is klein maar getrein.


Wilma de Bruin (Marisa Drummond), haar regterhand, is ’n 38-jarige seksueel geïnhibeerde perfeksionis wat haar bes probeer om ook van die rak af te klim voor haar vervaldatum. Wilma bring die beste in haar kliënte na vore as die maatskappy se voorkomsfundi.

Lulu van Heerden (Carien Botha) is 25. Sy is die sekretaresse / privaat speurder / manne-eter. Selfs al is sy oorgewig, het dit haar nog nooit gepootjie om haar man te vang. Sy is soms verspot gemaklik in haar eie vel, wat meeste om haar óf laat bloos van verleentheid óf vul met heimlike jaloesie.

Laastens, die nuutste lid van die span is Anna Fourie (Carine Rous), ’n 31-jarige webblogskrywer wie kliënte help om hul meer positiewe eienskappe te verwoord. Met ander woorde, sy lieg vir ’n lewe deur aanlynprofiele te poets sodat hul meer aanloklik is as in die werklikheid. 

Almal se lewe word moeilik gemaak deur die nuuskierige buurvrou, Tannie Tossie (Annette Engelbrecht), wie op 62 vasberade is om haar eie vleis faam op te bou met haar piepklein biltongwinkeltjie, wat reg langs ESP geleë is. Dit is nou nie alvorens sy kan ontslae raak van die Sodom en Gomorra vroumense, wat sy volhou eintlik ’n propperse gesellinklub reg onder haar neus bedryf.

Ná ’n dag se harde werk, is die plek om te wees die kroeg en restaurant op grondvloer, waar meeste van ESP se afsprake plaasvind en waar Benny Botha (Hannes Brümmer), die aantreklike tog ietwat hipster kroegman, werk as ’n selfbeskryfde doepadokter. Hy staan nooit terug om vir Anna presies te vertel wat hy van haar en haar mal kollegas dink nie. Maar daar mag dalk ook vuurwarm vonke tussen dié twee spat.